Thursday, 9 January 2014

AFRIKANER, BOER, AFRIKANER-BOER, BOERE-AFRIKANER

AFRIKANER, BOER, AFRIKANER-BOER, BOERE-AFRIKANER **for the (English version see The Boers Are Not Afrikaners)  

Wat is die verskil? Is daar ‘n verskil?

Die aanloop tot hierdie oorsig oor woorde, name, terme, is die onverkwiklike en afbrekende getwis in volksgeledere oor die vraag wie is Afrikaner en wie is Boer?
Dat daaroor getwis word kan nie weggewens word nie. Dat daar met bitsigheid getwis word kan nie ontken word nie. Dat die twis sinloos – aftakelend is kan nie verswyg word nie.
Te midde van fisiese en geestelike bedreigings teen ons volksbestaan word eindelose energie verspil in hierdie twis. Waarom? In sigself dui dit alreeds op ‘n toestand van paniekerige angs. Wanneer so ‘n gees in ‘n volk vaardig word, word aan sinloosheid die hoogste prioriteit gegee; word daar met vuur en ywer gestry oor kwessies wat op die rand van volksbelange staan. Wanneer in sulke oorspanne omstandighede besluite geneem word, kan ‘n volk sy eie ondergang bewerkstellig.
So ‘n toestand het rondom 1994 geheers. Met roekelose politieke figure aan die roer van sake het ons paniekgedrewe volk ewe roekeloos sy bestaansreg weggegooi. Nie net die politieke mag nie, maar ons volk se selfrespek is daarmee in gedrang gebring.
Uit verbittering het reaksies ingetree. Deel daarvan was die vraag na ons volksidentiteit. Afrikaans, Afrikaner, Afrikaanses is teenoor Boer opgestel. Dié debat het tot ‘n getwis ontwikkel. En nou, na soveel jare, word steeds met oorspanne emosies gestry sonder om die pit, die oorsaak en gevolg in berekening te bring.
Daarom het die twis sinloos geword en die yweraars oor die saak het steeds nie van hulle koorsige angs ontslae geraak nie. Vanselfsprekend is die bogenoemde ‘n vereenvoudiging van baie los drade wat ‘n rol gespeel het. Terselfdertyd moet onthou word dat die baie los drade ineengevleg is in ‘n oorverhitte politieke kabel wat moeilik ontvleg sal word. Daar was al baie pogings tot ontvlegting. Die suksesse tot dusver is skraal.
Ook hierdie oorsig is ‘n poging tot ontvlegting. Die benadering wat gevolg word is om eenvoudige historiese feite bymekaar te rangskik. Dit staan nie los van volksemosie nie maar die feite (en die oorsig) word nie deur emosies oorheers nie.
Want historiese feite spreek vanself. Elkeen wat daarop met oorspanne emosies wil reageer staan skuldig voor sy eie en voor ons volksgewete.
Die enigste manier om uit ‘n angspaniek los te breek is immers om eenvoudige feite nugter en eerlik te ontleed en te weeg. Dit is wat vervolgens uiteengesit word.

DIE BEGRIP AFRIKANER
Die eerste aangetekende gebruik van die woord Afrikaner wentel om ‘n sekere Hendrik Bibault wat op 6 Maart 1707 uitgeroep het:
“Ik wil niet loopen, ‘k ben een Africaander; al slaat den landdrost myn dood, of al setten hy myn in den tronk, ik sal nog wil niet swygen.”
Sy uitspraak – ek is ‘n Afrikaner – is wel die eerste aangetekende geval maar uit die omstandighede was dit duidelik nie uniek nie.
Sy optrede was deel van die uitbundige vreugde van die Vryburgers se oorwinning oor goewerneur W.A. v.d. Stel en sy korrupte amptenare.
Die stryd teen onreg het die eerste spore van saamhorigheid in ons volksverband geopenbaar. Hollander en Fransman het ‘n nuwe idenditeit as Afrikaners begin toon.
Die vreugde waarmee die oorwinning gepaard gegaan het slaan al vroegoggend op 22 Februarie 1707 in Stellenbosch uit toe ‘n jong man, Albert van Emenis te perd deur die strate gejaag het met galmende krete van “victorie!” Dit het groot opgewondenheid veroorsaak en landdros Starrenburg was nie daartoe instaat om die burgers te kalmeer nie. Selfs sy hardhandige optrede teen Hendrik Bibault en sy drie vriende kon nie hulle geesdrif demp nie.
Dit het inteendeel die samehorigheid waarin die kiem van volksidentiteit gesluimer het, tot ‘n gees van verset aangewakker.
Daarom die uitroep – al slaan hy my dood of sit hy my in die tronk, sal ek nie ingee nie – want ek is ‘n Afrikaner. Vir hom was dit afdoende motivering.
Die besondersheid van die voorval is dat ons hier te doen het met (waarskynlik) ‘n jong Fransman wat Hollands praat en hy noem homself ‘n Afrikaner. Dit vind plaas ongeveer 55 jaar na Van Riebeeck se landing en slegs 19 jaar na die landing van die eerste Franse Hugenote. En reeds is die kiem van volksidentiteit in sy uitspraak waarneembaar.
Want nie taal alleen nie maar ook die lewensdrif tot ‘n eiesoortige voortbestaan en ‘n onderlinge gebondenheid, ‘n historiese lotsgebondenheid, is die wesenselemente van volksidentiteit.
Dit was juis die groeiende lewensdrif en historiese lotsgebondenheid wat goewerneur V.d. Stel vir sy eie voordeel wou onderdruk, wat toe reeds onder die Vryburgers posgevat het. Dit het bly groei en is later versterk deur die taalstryd in die voortbestaanstryd van ons volk. So het die eienaam “Afrikaner” om ons volkstrots en volksidentiteit uit te druk so vroeg as 1707 wortel geskiet. En dit het gebly.

Vergelyk:
● Boëseken A.J. Die Nuusbode onged.
● Afrikaanse Woordeboek Dl. 1 1970
● F.A.K. Afrikaanse kultuuralmanak 1980

DIE BEGRIP BOER
Die oudste gebruik van die woord Boer (met ‘n hoofletter) is onseker.
As tradisionele landbouers was ons voorsate as boere (met ‘n kleinletter) bekend. In hierdie sin kom dit al in Van Riebeeck se tyd voor.
Na alle waarskynlikheid raak die begrip Boer (met ‘n hoofletter) rondom die Eerste Vryheidsoorlog (1881) ingeburger.
‘n Duideliker oorsprong is aan te toon uit die Engelse literatuur – besonderlik in die propagandastukke voor die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902).
Harde propaganda het in die Britse koerante verskyn kort voor en tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Aan die een kant is die bedryfslewe (boere) beklemtoon. Aan die ander kant is die Boere se oorwinning op Majuba (1881) gebruik om ‘n wraakveldtog op tou te sit.
Hierin is gewag gemaak van die Boere en het dit ‘n propagandawoord geword. Volgens Engelse uitspraak is Boer verbind aan “boar”, ‘n soort harige wilde vark wat in Engeland en Europa voorgekom het. So is president Kruger byvoorbeeld in spotprente voorgestel as ‘n wilde vark met Kruger se gesig. Selfs ‘n relatief objektiewe skrywer soos Packenham verbind die woord Boer aan agterlikheid. Volgens sy redenasie was dit die Oos-Kaapse Boere wat agterlik, wreed teenoor die Swart volke en onwillig om die Britse gesag te aanvaar, die binneland ingetrek het. Hy onderskei hulle van die Afrikaners wat volgens hom inskiklike en ordentlike mense was.
In die Noorde het twee Boererepublieke tot stand gekom. En dit was die Boere, “Boers, Boars” teen wie Brittanje oorlog verklaar het.
Hierdie inleidende verduideliking van Packenham strook glad nie met sy deeglike uiteensetting van die oorlog nie. Dit is duidelik dat ook hy deur die Britse propaganda mislei is. Selfs in so ‘n mate dat hy die valse teenstelling tussen Boer en Afrikaner napraat.
Reeds tydens die tweede botsing in Natal, op 21 Oktober 1899 maak die Boere die eerste keer kennis met die Britse gevegsmetodes. Die Britse bevel was “geen gevangenes” – dit wil sê maak dood! Dit was wyd verkondig in Brittanje.
Teen die einde van die veldslag was dit veral die lansiers wat heen en weer oor die Boere gestorm en hulle doodgesteek het. Een Britse offisier se kommentaar na die geveg was “most excellent pig-sticking … for about ten minutes; the bag being about sixty.” Dit vertel die volle verhaal: Dit is soos op ‘n tradisioneel Britse jagtog waar onder andere wilde varke ingehok en dan doodgesteek is. Die oes, “bag” is dan agterna getel.
Ongetwyfeld was die woord Boer in die mond van die Britte ‘n veragtende skeldwoord. Maar soos ook met ander woorde het die skeldwoord ‘n erenaam geword – deur heldedade.
Die roem van Boerehelde in die oorlog het die wêreld verstom. Moed, durf, dapperheid en volharding het die inhoud van die woord Boer wêreldwyd versinnebeeld.
So het die woord Boer ‘n erenaam geword en dit het gebly. ‘n Merkwaardige toevoeging hiertoe was die naam Boer(e)vrou. Ook die vrouens was deur die Britse oorlogpropaganda afgetakel. Die kalme waardigheid, netheid en karaktervastheid van die meeste vrouens in die oorlog, besonderlik in die konsentrasiekamlpe het ook die vrou verhef tot heldin. Dit is eenvoudig gedoen deur die feite op te teken en te publiseer – sonder om elkeen tot heldin te proklameer. Dit was nie nodig nie. Want die feite spreek vanself.

Vergelyk:
Packenham T: The Boer War 1979
Hobson J.A.: The psychology of Jingoïsm 1901
Die eenvoudige wyse om die sleutelwoorde, Afrikaner en Boer verder te weeg is om die deining van die woordgebruik deur die geskiedenis na te gaan.
Dit wentel om die woordgebruik deur gesaghebbende historici gebruik, en om uitsprake van prominente leiersfigure – min of meer in kronologiese volgorde.
Die begrip Afrikaner om ons volksgevoel uit te druk het na 1707 konsekwent gebly.
● In 1779 vlam die volksbewussyn in die Oos-Kaap sterk op met die sg. burgerpetisie van die Patriotte beweging. Met burger is vaderlandsliefde uitgedruk.
● In ‘n akademiese geskrif in 1784 word die volksgevoel en vaderlandsliefde uitgedruk met “onze Africaners.” Die Patriotters beskou hulleself as onderskeibaar van die gekleurde en Swart inboorlinge enersyds en andersyds beklemtoon hulle hulle onafhanklikheidstrewe van Europa wat as verafgeleë stamlande wel gerespekteer word.
● In ‘n geskrif van die Patriotters van 1795, identifiseer die skrywer homself as “een Africaan.”
● In 1795 word die identiteitsbewussyn skerper omlyn wanneer die burgers bereid is om die wapen op te neem teen die eerste Britse besetting van die Kaap.
● In 1800 loop die sg. Van Jaarsveld-opstand uit op ‘n gewapende botsing van klein omvang. 
Die veronderstelde leiers, Van Jaarsveld en Prinsloo word in die Donker Gat in die Kasteel opgesluit waar Van Jaarsveld sterf. 
Met sy vrylating in 1803 – toe die Kaap weer Hollands word – geniet “Kasteel” Prinsloo ‘n helde ontvangs.

Vergelyk:
● C. Beyers: Die Kaapse Patriotte 1967
● Gie S.F.N. Geskiedenis vir Suid-Afrika 2 dle (1955)
● Met die tweede Britse besetting van die Kaap in 1806 was die volksgevoel, volksidentiteit en onafhanklikheidsbeskouing relatief goed gevestig. 
Die historiese lotsgebondenheid van ons volk is verder in die stryd teen Britse oorheersing gestimuleer.

Dit het veral gewentel om die taalstryd, godsdiensstryd en stryd weens die Britse beleid teenoor die inheemse bevolking – kleurlinge en Swartes. Laasgenoemde loop uit op Slagtersnek in 1816. 
Hiermee was die skeidslyne helder getrek:
Die Afrikaner, die Engelse bewind en die Swart volke.
Teen 1815 was die begrip Afrikaner wat ‘n afsonderlike volk aandui duidelik gedefinieer.

Vergelyk:
● Coetzee J.A. Skavot onged. (Dr Coetzee het die Slagtersnekbalk teen 1949 her-ontdek terwyl hy oor die volksbewussyn teen 1970 sterk debat voer met skrywers soos dr. Heese wat Jan-en-Alleman by ons volk wou insluit.)
● E. Walker (1934) navorser en skrywer oor die Groot Trek gebruik die woord “Afrikander” wanneer hy die volksverband, taal en kultuurlewe gedurende die Groot Trek (1836-38) beskryf maar t.o.v. die ekonomiese bedryfslewe en eiendom gebruik hy die woord Boer. Hy bedoel daarmee dieselfde ofskoon dit ‘n tematiese aksentverlegging aandui.
● Die uitgebreide tweedelige navorsingstuk van die R.A.U. en R.G.N. onder redaksie van prof. Dr. E. Stals oor die Afrikaner in die Goudstad (1886-1961) gebruik deurgaans die term Afrikaner wanneer “Afrikaans sprekende Blankes” beskryf word. Uit die totale sinsverband is dit duidelik dat dit oor die verstedelikte deel van die Afrikanervolk gaan.
● Generaal C.R. de Wet skryf in sy boek Die Stryd Tussen Boer en Brit, 1903, dat hy die inhoud neergeskryf het “voor het Afrikaanse volk maar ook voor het gehele wêreld.” Die Boeregeneraal by uitnemendheid ag homself deel van die Afrikanervolk. Daarom gebruik hy Boer en Afrikaner as wisselterme.
Dieselfde strekking vind ons in sy toespraak tydens die onthulling van die Vrouemonument op Bloemfontein in 1913. 
Daar gebruik hy die woorde “Afrikaanse volk” as hy oor die Boereheldinne praat.
● In sy laaste (onvoltooide) toespraak in 1916 – toe hy voor die gehoor gesterf het – 
sê hy o.a.” “man kan de Afrikaner geen groter nekslag toebrengen dan door de vroueren te verdelen.”
President Steyn is begrawe aan die voet van die Vrouemonument. 
Daardie monument wat – deur Steyn se toedoen – opgerig is vir die Boerevrouens wat in die oorlog gely het. 
Tydens die begrafnis het menige spreker gewys op president Steyn se volksverbondenheid, sy volkstrou en sy vaderlandsliefde.
In die somtotaal daarvan vind ons ‘n kondensasie van die suiwer betekenis van volk, burger, patriot, Boer, Afrikaner.

● President Kruger noem in 1899 president Steyn ‘n opregte Afrikaner. 
   Elders praat hy van die Afrikaanse nasie. Ook vir president Kruger was daar geen betekenis-
   onderskeid tussen Afrikaner en Boer nie behalwe vir die aksent van trou by die Boerehelde.
By ander skrywers word dieselfde aksent aangetref.
●● Sarah Rahl – Met die Boere in die veld 1937 beklemtoon die trou, durf en volharding van die Boere.
●● Mev. E. Neethling, Mag ons Vergeet, 1916, en Afrikaner as wisselterme.
●● H. Rabie – V.d. Merwe, Onthou, 1940, gebruik Afrikaner en Boer as identifiserende volksterme met ‘n duidelike agting vir Boerehelde.
● ‘n Belangrike begripsverskuiwing tree teen 1938 in met die simboliese Ossewatrek. 
Die begrip Boer, as erebenaming, word toe ook toegepas op die heldedade van die Voortrekkers.

Die emosionele opwelling wat met die simboliese trek opgewek is stimuleer woorde soos Voortrekker – Boer, Afrikaner – Boer terwyl Boer en Afrikaner deurgaans as wisselterme gebruik is. 
Dit kom duidelik in etlike aangetekende toesprake voor. 
‘n Deursnit van die toesprake is saamgevat in die Gedenkboek van die Ossewatrek 1938.
Daardie gebeure het ook baie vroeëre skrywers gestimuleer om aantekeninge, herinneringe en manuskripte oor die Vryheidsoorlog te voltooi en te publiseer. Vandaar die konsentrasie van publikasiedatums tussen 1936 en 1945.
Na die emosionele hoogspanning van die jare 1930-1950 tree weer groter rustigheid oor ons volksidentiteit in.
G.D. Scholtz skryf as deurwinterde historikus in 1954 oor die “klein Afrikaanse volk.” 
In 1957 dra hy die boek, Gevaar uit die Ooste, op aan “alle Afrikaners wat bereid is om hulle persoonlike opofferings vir die voortbestaan van hul volk te getroos.”

Met kenmerkende skerpheid onderskei dr. H.F. Verwoerd in die sestigerjare die begrip Afrikaner – as volk – teenoor die alles insluitende breë begrip bevolking in die hele Suid-Afrika.
Met deeglike wetenskaplikheid dui prof. A.W.G. Raath in 2002 in ‘n tweedelige werk 
“Die Boerevou 1899-1902” die offervaardigheid van Boereheldinne aan.
Met hierdie reeks voorbeelde van begripsgebruik oor byna drie eeue word volstaan.
Die begrippe Afrikaner, Boer, en kombinasies bv. 
Afrikaner-Boer het oor hierdie eeue heen as deel van ons volkstaal gegroei en met ‘n duidelike betekenis geyk geraak.
Beide woorde word gebruik om ons volksidentiteit uit te druk. 
‘n Volk kan breedweg beskou word as ‘n groep mense met ‘n gemeenskaplike taal en kultuur en met ‘n bewuste historiese lotsgebondenheid wat in die gedagte voortgedra word. 
Dit is wat met volksidentiteit uitgedruk word in die woorde Afrikaner en Boer.
Die gemene deler tussen die twee woorde is dat die volksidentiteit berus op ons oorsprong, ons onderlinge verbondenheid, ons volkstaal, volksideale, volksbestaan en volkstoekoms. 
Daarmee druk ons dus ook ons volksrespek of volkstrots uit.

In die somtotaal hiervan word die volksidentiteit met volksrespek saamgevat:
● in die woord Afrikaner
●● Dit is wat Hendrik Bibault in 1707 uitgedruk het – al was dit nog ongevorm.
●● Dit is wat president Steyn in 1916 beklemtoon het.
●● Dit is wat G.D. Scholtz in 1957 bedoel het.
● in die woord Boer
●● Dit is wat generaal De Wet in 1903 uitgedruk het.
●● Dit is wat mev. Neethling in 1916 beklemtoon het.
●● Dit is wat in 1938 bedoel is.

Waarom dan die twis oor woorde?
In die jare rondom 1990 proklameer ‘n groep linkse akademici en politici die woord “Afrikaanses” en beweer dat dit die eenheid uitdruk van almal wat Afrikaans praat. 
Dit was ‘n poging om in die gees van politieke woelinge van die tyd te akkommodeer.
Daarom was dit dwaasheid. Want net een komponent, taal, is daarmee verhef om volksidentiteit uit te druk.
Die hart van die wyse is na regs, maar die hart van die dwaas is na links (Pred. 10:2 – 1933/53)

Wat sê dit?
In die gang van die hele Skrifgedeelte verwys dit nie na sedelikheid nie maar na die deugdelikheid van die wyse teenoor die skadelike van die dwaas. 
Dit wil sê dat ‘n dwaas selfs in die eenvoudigste dinge nie ordelik optree nie. 
Dit berus dus op die algemeen geldende regshandigheid teenoor die lompheid van die linkerhand.
In die voorafgaande vers word gewag gemaak van ‘n paar dooie vlieë wat die hele voorraad salf bederf. So is die bederwende invloed van dwaasheid.
In die opvolgende verse word die voortwoekerende krag van die dwaasheid uiteengesit. So roep die dwaasheid verdere dwaasheid op.

(Let daarop dat die 1983 Bybel die begrippe links en regs weggelaat het. 
Die 1933 Afrikaanse vertaling kom ooreen met die gesaghebbende vertalings in Duits (1534) Engels (1611) en die Statebybel (1637))
Die dwaasheid van die begrip Afrikaanses wortel veral in die gebrekkige en misleidende beklemtoning van slegs taal om volksidentiteit uit te druk.
Dit was ‘n lompe, linkshandige poging om politieke akkommodasie ten koste van volkskap te bewerkstellig; ‘n mislukte en misleidende poging om bymekaar te voeg wat nie bymekaar hoort nie.
Die reaksie daarop was nie onverwags nie. 
Twee koerse is ingeslaan:
‘n Kompromisterm, Boere-Afrikaners is in die plek van Afrikaanses gestel en met ywer gepropageer.
Ander het slegs die erebenaming Boer beklemtoon.
Daarmee het die gemoedere ontvlam en is verwyte van links na regs geslinger.


No comments:

Post a Comment